Monday, 26 May 2014

33 Weke Swanger

Dagse Dierbaarstes!
Nog net 7 weke oor, my mamsie land oor 5 en 'n bietjie weke!
Tyd is besig om te vlieg en ek weet nie lekker hoe ek daaroor voel nie.
 
Ek en Manlief het die koue weer vreeslik geniet hierdie week!
Ons het lekker teetjies gedrink en ons kombersies benut.
Ons het ook in Perth Hills 'n draai gaan ry een aand en dit was ons uitsig:
 
 
 
Is dit nie mooi nie?
Ek het vir ons Milo gemaak en ons het vir 'n uur net daar in die donker gesit en gesels.
 
Ek het mos 2 vakke laas week geskryf en die dag voor die 2de vak het ek en Wolf gesels oor kondensmelk en toe raak ek nogal lus daarvoor. Ek het HARD geleer en het hom by die trein-stasie gaan optel en gevoorgestel dat ons vinnig winkel toe gaan vir kondensmelk. Hy stop toe en pluk hierdie uit se rugsak uit:
 
 
 
 
 
Dit was vir my vreeslik oulik! Hoeveel blikkies oor is, is ons 3 se geheim!
 
Verder het ons tyd saam met ander mense spandeer. Ons was na 'n pizza-aand toe en het middagete geeet saam met ander vriende.
 
Ek is nou besig met ooievaars-tee-uitnodigings in my sokkies met 'n koppie tee! Ek geniet my gate uit.
 
Vragies:
 
Grote van babatjie: Die internet se 'n pynappel, alweer!? Babatjie weeg plus/minus 2kg en gaan van nou af omtrent 200g per week optel. Sy groei dat dit klap.
 
Hoogtepunt van die week: My Mamsie se Visa is goed-gekeur! So sy land versekerlik die 4de Julie hier in Perth!
 
Beweging: Dit is so lekker! Ek en Wolf lag lekker vir hierdie klein-groot-mensie. Sy is wakker deur die dag en slaap heerlik in die aande, saam met ons. Hopelik bly dit so wanneer sy besluit om hier uit te klim.
 
Drange: Ek het bietjie van 'n soet-tand, maar dis nie regtig iets nuuts nie.
 
Goed wat my nie lekker laat voel nie: Niks hierdie week nie!
 
Slaap: Ek slaap steeds heerlik!
 
Emosies: Dit gaan heel goed. Ek voel reg vir hierdie hele storie. Soortvan...
 
Energie: Die energie vlakke is STEEDS 100%
 
Lyfie: ALMAL se ek is vreeslik klein, ek meet reg en Dr is gelukkig. Lyfie voel goed, eks eintlik nie so ongemaklik soos ek gedink het ek sal wees nie! Oh, en Manlief het vir my 'n stort rakkie gekoop, so ek hoef nie meer in die stort te buk nie! Hy is dierbaar, is hy nie?
 
Iets waaroor ons dankbaar is: Ouma Charmaine se VISA en 'n man wie my vreeslik goed ken! :)
 
Baba-kopies:
 
Hier is laasweek se kombersie:
 

Ek is mal daaroor en dit is VREESLIK sag!
 
Wolf het vir ons ons eerste sak doeke gekoop, ek het 'n foto geneem, maar kry dit nie op nie, hy lyk heel beindruk met homself. (Ek dink nie hy kan meer wag vir hierdie bondeltjie van ons nie)
 
Ons het spoegdoeke gekoop, sommer net wittes, nie vreeslik opwindend nie en ook 'n asblik, spesiaal vir stink doeke.
 
Ons het besef ons kort nog so een of twee goetertjies, maar dit is glad nie so erg nie!
 
Magie vir 33 weke:
 

 
Dankie vir die van julle wat sterkte toegewens het vir eksamen, nog net een oor die 13de Junie.
Lekker week verder!
 
:)
 

 
 
 
 


Monday, 19 May 2014

32 Weke Swanger

Hi
 
Ek skryf vandag my eerste eksamen (Special Needs Education) en het gedink ek gaan dalk nie tyd he om vir julle 'n blog post te skryf nie, maar ek het die werk nou al 'n paar keer deurgegaan en is gemaklik daarmee.
 
Hierdie week het ek net mooi NIKS opwindend gedoen nie, ek het GELEER en tee gedrink saam met 'n vriendinnetjie en haar meisiekind en dis min of meer dit.
 
Ek gaan vandag voor ek skryf middagete eet by 'n oulike vroutjie en haar 2 meisiekinders, sy het gister verjaar en ek kon nie by die ete wees nie,
dit is wat ek vir haar vir haar verjaarsdag gekies het:
 
 
 
 
 
Sommer ietsie kleins en perfek vir nagereg, smoothies of koek in 'n koppie!
 
Vragies:
 
Grote van babatjie: "Squash" dis nie die grote van 'n muurballetjie nie, dis 'n tiepe pampoen ding.
 
Hoogtepunt van die week: Ek dink my hoogtepunt is 'n teetjie en Lemon Maringue saam met Arlene.
 
Beweging: Baie! Veral in my ribbes, ek dink spasie raak nou bietjie min.
 
Drange: Niks!
 
Goed wat my nie lekker laat voel nie: Niks hierdie week nie!
 
Slaap: Ek slaap regtig lekker deesdae!
 
Emosies: Hulle is nogal heel normaal die week, voor eksamens is ek normaalweg bietjie gestress en deurmekaar, maar nie die keer nie.
 
Energie: Die energie vlakke is STEEDS 100%
 
Lyfie: Hierdie eendjie lyf van my! Ek het al 10kg opgetel en dit maak my bietjie bekommerd aangesien ek nog 8 hele weke oor het. Dit voel nie asof ek soveel meer eet as normaalweg nie. (net bietjie meer)
 
Iets waaroor ons dankbaar is: Ons was gister dokter toe en alles gaan goed met ons al2. Tyd hol nou nader, ek is bang, maar meer opgewonde.
 
Baba kopies:
 
Ek het 'n grys SAGTE kombersie gekoop met wolkies op, ek sal volgende week 'n fototjie daarvan opsit! Skuus ek het vergeet om dit af te neem.
 
Ons is vir eers klaar gekoop, al wat ons nog kort is spoegdoeke en doeke, dan is ons reg vir hierdie bondeltjie vreudge. :)
 
Magie vir 32 weke:
 
 
 
Dit is dit vir eers
Ek skryf Vrydag nog 'n vak en dan eers weer die 13de Junie,
Julle moet 'n heerlike week he,
ons sien julle volgende Dinsdag :)
 
 
 


Tuesday, 13 May 2014

31 Weke Swanger

Dagse!
 
31 Weke swanger - my pens is amptelik massief (dit voel so)
Oor 5 weke moet my tassie gepak wees en ons kar-stoeltjie ingesit wees!
 
Manlief is by die huis en ons lag lekker oor hoe ek ewe skielik begin waggel het. Dit is so lekker om getroud te wees met mens se beste maatjie, so kan mens lag oor goed en WEET dat hulle jou aanvaar en liefhet, maak nie saak hoe jy lyk nie! Hy vlieg more uit en is dan weg vir 6 nagte ipv 7 soos gewoonlik! :)
 
Ek het nie iets gebak of vreeslik gekuier nie, aangesien ek voorberei vir eksamen. Ek het wel 'n nuwe maatjie gemaak, waarvan ek julle net-nou sal vertel!
 
Ek gaan ook vir die van julle wat nie weet nie - die geslag van babatjie vertel!
 
Dit het reen nou gereeld en ek het een oggend in my nagklere en my pens buite gaan rondloop om vir julle hierdie foto te neem:
 
 
Gelukkige Moedersdag!
Ons kerk het sommer alle vroumense bederf (tot baie kleintjies) elke vroumens het 'n blommetjie gekry, myne het hierdie versie opgehad:
 
 
Ek wou laas week hierdie foto op die blog gesit het, maar het dit nie afgelaai nie, so hier is ek en Wolf op ons uitstappie:
 
 

Vragies:
 
Grote van babatjie: 'n Pynapple! En weeg tussen 1.1 - 1.7kg.
 
Hoogtepunt van die week: My man was die naweek by die huis! Ons het ook gister so paar baba goetertjies gaan koop, ek voel vreeslik bederf!
 
Beweging: Baie meer! Eks mal daaroor, Wolf se hy dink hierdie babatjie het 'n humeurtjie, ons sal sien...
 
Drange: Niks!
 
Goed wat my nie lekker laat voel nie: Die reuk van woestersous is bietjie sterk en dit maak my bietjie naar, maar dit is nie iets wat mens elke dag ruik nie.
 
Slaap: Ek sukkel so bietjie, maar as ek moeg genoeg is slaap ek lekker.
 
Emosies: Tuimeldroeer emosies- genugtig!
 
Energie: Die energie vlakke is STEEDS 100%
 
Lyfie: Ek het begin waggel soos 'n eendjie! Wat 'n grap! Verder het ek bietjie rug-pyn en my klere wat pas raak bietjie minder. My nuwe maatjie... GAVISCON, ek het al so paar keer sooibrand in die aande gekry. Verder is als nog dood dollies!
 
Iets waaroor ons dankbaar is: Nog net 9 weke oor! My ma kom amper en ek sien VREESLIK uit daarna! Dit gaan so lekker wees. :)
 
Kopies vir die week:
 
 
 
 
 
 
Ons kry 'n MEISIEKIND!
 
 
 
 
Magie hierdie week:
 
 
 
Lekker week vir julle! :)
 
 


Monday, 5 May 2014

30 Weke Swanger

Mei het aangebreek!
Ek begin hierdie maand met eksamen,
Ons is vandag 30 weke swanger
Vreemd om te dink ook 'n paar weke is ons bondeltjie hier!



Ons was hierdie week baie rustig!

Ons het 'n nuwe SA winkeltjie hier ontdek en Manlief het vir ons (vir my) 'n SAK muise gekoop.
Ons het so paar SA goetertjies gekry soos Cloud se "Bran muffin mix" - dit maak die lekkerste muffins
(ek sit altyd dadels, piesangs en gerasperde wortel by)

Ons het vriende oor gehad vir Pita's, Skyfies en 'n fliek.

Ons het so paar baba goetertjies gaan koop! :)

Ons het ook 'n rondry dag gehad, ons het sommer na sulke rots-formasies (Desert Pinnacles) gaan kyk so 2ure se ry van ons huis af.

 
 
 
 
 
 
 
Vragies:
 
Grote van babatjie: Die internet se 'n GROOT blaarslaai kop of n komkommer? Die babatjie weeg nou om en by 1.3kg. Ogies kan oop en toe.
 
Hoogtepunt van die week: Baba goetertjies koop saam met Manlief, dis lekker om dit alleen te doen, maar saam met my MAN is dit net lekkerder! Hy was baie geduldig en oulik oor bottels, salfies en wipes!
 
Beweging: Dis heerlik! Wolf kry meer reaksie as ek! (Ek dink hy geniet dit ook nou meer) Dis nie nou net 'n babatjie nie, dis nou ONS babatjie.
 
Drange: Niks! Ek het wel lekker goed geeet soos Lemon Meringue, 'n doughnut en daar is nog net 2 muise oor in die sak waarvan ek daarbo gepraat het. Oh Griet! Ons kyk maar wat die dokter se skaal se. 
 
Goed wat my nie lekker laat voel nie: Ek het maalvleis gaar gemaak en was glad nie naar nie! So ek is in my noppies!
 
Slaap: Ek sukkel so bietjie!
 
Emosies: Tuimeldroeer emosies!
 
Energie: Die energie vlakke is STEEDS 100%
 
Lyfie: Ek voel ek lyk so bietjie soos 'n OS! Ek kan steeds my eie sokkies aantrek en het 'n oulike man wat my op help wanneer ek die simpel besluit neem om op die vloer te gaan sit. (Hy het ook vir my gese hy sal my help om sokkies en skoene aan te trek wanneer ek nie meer by my tone kan uitkom nie)
 
Iets waaroor ons dankbaar is: Wolf se rooster verander klein bietjie so hy is hierdie keer net vir 4 slapies weg, waar dit altyd 7 is. Ek tel hom Saterdag by die lughawe op! :)
 
Baba kopies:
 
Ons het 'n Moses mandjie vir ons stootwaentjie gekoop. Hierdie gaan babatjie se bed wees vir die eerste rukkie. Maklik om in die huis rond te beweeg en iets wat ons in die kar kan sit indien ons dit nodig het.
 
 
 
Vir die doek-omruil-stasie:
 
 
 
 
2 Bottels indien ons iewers heen gaan en bietjie wil voorberei:
 
 
Ons het ook waslappies,
5 onsies 3-6mnde (somer)
goed vir hierdie Mamma
oh en 'n waterdigte laken vir die Moses mandjie gekoop.
 
Behalwe vir 3 of 4 goetertjies het ons nou al die basiese goed wat ons nodig het!
 
Magie vir 30 Weke:
 

 
Ek gaan vanmiddag dokter toe vir die 30 week afspraak.
 
Lekker week vir julle en sien julle volgende Dinsdag! :)
 
Indien julle van MOOI juwele hou, loer bietjie hier!