Tuesday, 16 December 2014

Doring Rosie

Hi
 
Om eerlik te wees is Mamma wees baie moeiliker as wat mense voorgee. Miskien is dit net makliker vir ander as vir my.
Dit is hoekom ek nie blog nie - Ek is bietjie poegaai!
 
Gister was die eerste dag wat dit nie vir my so moeilik gevoel het nie. Ons het gespeel en heerlik gelag, sy het een oomblik gesels en die volgende was sy so uit soos 'n kers. Ons altwee is dol verlief op Lené.
 
Die ding is om 'n Mamma te wees is nie net wanneer sy wakker is nie, dit is konstant sonder rus kans of "vakansie," dalk 'n asemhaal uur bad sessie wanneer sy slaap, maar tog wag jy in spanning tot sy weer wakker word om 100% van wie jy is en wat jy wil hê vir haar te gee.
 
Dan en eers oor 'n rukkie blom daardie gesiggie-kind van jou en giggel en gesels sy en glo sy in haarself, net omdat jy so sê.
 
En nou blom ons altwee.
 
 

Monday, 24 November 2014

Die tande muis bou sy huis

 
More lieflike lesers!
 
Ek voel soos 'n ander mens, Manlief is klaar met fifo (fly in fly out) vir die jaar. Dit beteken hy is vir die res van die jaar tot middel Februarie elke aand by die huis. Ons is nou 'n regte gesinnetjie en ek voel sommer ligter, maak dit sin?
 
Ek het begin met 'n "spyskaart beplanning" sodat ons nie elke tweede dag winkel toe hoef te gaan nie en ek dink dit help ook dat mens bietjie geldjies spaar. Indien julle vinnige, heerlike, redelike gesonde resepte het, deel hulle asseblief. Ek beplan net 5 dae 'n week en die ander 2 eet ons oorskiet of ietsie anders.
 
Ek het ook begin met 'n dagboek, soms tuimel gedagtes en dinge in my kop rond en pla my so bietjie en ek het besluit om dit op 'n bladsy af te laai. So kan ek fokus op dinge wat belangrik is en wat my gelukkig maak.
 
Eksamen is verby, eks bly ek het 2 vakke gevat, alhoewel ek baie verlig was toe dit klaar was. Wolf het elke keer saam gegaan en na Lené gekyk wat natuurlik 'n droom was.
 
Lené kry tandjies - sy kou alles en raak so bietjie geirriteerd omdat haar tandjies juk. Ons smeer salfies aan en so nou en dan sal ons haar tandvleisies vir haar vryf en daarna as sy nie beter voel nie gee ons bietjie Panado. Sy is mal oor die vissie se stert en kan dit al self in haar mondjie kry. Alles is sopnat en ons kan 'n tandjie sien deurkom.
 
 
 
 
Sy word so in die oggende wakker, sy huil nie, sy gesels en maak "blllll" geluidjies. Ek gee dan bietjie minder om om 5uur in die oggend wakker te word.
 
 
Ons het uiteindelik 'n mat gekoop by Ikea waarop Lené en ons bietjie kan ontspan, ek sit nou op die mat, soos 'n regte juffroutjie. Soos julle kan sien is sy spekvet en gesond.
 
m
 
 
Iemand het haar voetjies ontdek, sy suig darem nog nie haar tone nie, sy raak net aan haar voete om eerlik te wees dink ek daar is 'n magie wat bietjie in die pad is. :)
 
 
 
Ek het haar omtrent laat lag vanoggend, soms lag mens dat die trane loop en sy was ampertjies daar!

Monday, 10 November 2014

Lené 4 Maande Oud

Dagsê!
 
Ons het 'n BESIGE week gehad wat Manlief by die huis was.
Vrydag saam met vriende wie hul "Permanent Resident" papier gekry het spandeer, hulle het 'n partytjie gehou en ons het eers na 11 by die huis gekom - Die volgende oggend was Lené 6:15 wakker. Ek was peogaai en Wolf het haar toe gevat en besig gehou vir so uur en 'n half sodat ek kan slapies!
 
Ek is so dankbaar daarvoor!
 
Saterdag het ons by vriende gebraai.
 
Sondag het ons na 'n groente mark gegaan en ook saam met vriende Chinese kos gaan eet.
 
Ons het ook Sondag gaan swem met Lené vir die eerste keer. Aangesien ons nie nog 'n sak met die kamera wou voeg by ons 'groot trek' nie, het ons 'n paar fototjies geneem met my foon en hier is hulle:
 
Sy is ook MAL oor haar Pappa :)
 
 
Ons het so half uur in die swambad gesit en sy was so vreeslik rustig en het net gesit en na die ander maatjies gekyk.
 
 
 
Sy is die dierbaarste gesiggie en doedoe nou!
Dit is dit vir die week - Lekker dag vir julle.
 
:)
 

Wednesday, 29 October 2014

Hier is ons weer

Ek het so bietjie laasweek 'n breek gevat van die Blog-wereld,
wanneer Wolf weg is het ek nie regtig iets om oor te skryf nie.
Ons 2 meisiekindertjies is meeste van die tyd net by die huis.
 
'n Fifo (fly in fly out) rooster of enige werk waar die man van die huis nie by die huis is nie, is moeilik. Wolf is 7 nagte by die huis en 7nagte uit op kamp. So vir die van julle wie lees en wie julle mans by die huis het in die aande, wees dankbaar - sommer vir ons wat nie daardie voorreg het nie.
 
Die enigste opwindende ding wat in die laaste twee weke gebeur het; dit het gehael in Perth, ek en Lené het weggekryp sodat ons nie naby die vensters is nie, sy het wakker geword van die hael en hier is 'n fototjie van ons grassies:
 
 
Ek het ook die 28ste Oktober my eerste eksamen geskryf, Wolf en Lené het saam gekom. Ons het so bietjie verslaap (35min) en was betyds Lené was oppad soontoe 'n engel, ek en sy het net gesels tot by die Tannie se huis. Ek het haar aan die slaap gemaak en sy het vir so uur geslaap terwyl ek skryf. Wolf het haar toe nog so 20min besig gehou totdat ek klaar was. Ek was bietjie bekommerd oor die hele situasie - vir geen rede! Lené wil niks weet van 'n bottel nie, het julle enige wenke oor hoe om 'n bottel voor te stel?
 
Ek het ook my haartjies gesny, hulle val vreeslik uit en is ORAL - Ek het net genoeg gehad en ek lyk nou so:
 
 
Lené het die laaste twee weke omtrent 'n groot meisietjie geword. Ons was na 'n "Child Health" afspraak en sy is nou 61cm lank en weeg 7.4kg. Sy is 'n gesonde babatjie en ons is omtrent geseen! Sy het ook die 22ste Oktober vir die eerste keer gegiggel - dit was kosbaar!
 
Sy het ook haar handjies ontdek.
Hulle hou goetertjies vas en ook mekaar! (my hare word getrek) Sy gesels ook baie meer en herken sekere woorde.
 


 
Sy slaap baie goed!
Ons gaan winkel toe stap later vandag en dit is ons plannetjies vir nou!
Julle moet 'n heerlike daggie he.
 



 
Ons sien julle weer.
:)
 
 

Monday, 6 October 2014

Handige baba-produkte - Lené amper 3mnde oud

Hi
 
 
Ek moet sê elke keer wat Wolf weggaan is makliker, ek dink dit het te doen met self-vertroue en Lené wat groot raak - so word alles makliker!
 
Ek het begin opsom (ek skryf net 2 vakke die semester) en vorder goed.
Lené slapies nou. Ek het die ketel aangesit en gaan nou 'n warm koppie tee drink en bietjie met julle klets.
 
Aangesien ons sonskyn-kind 3mnde oud is, het ek gedink dit sal 'n goeie idee wees om 'n lysie te maak van produkte wat ek geniet daar is baie voefies wat mens nie regtig hoef te koop nie.
 
Produkte wat ons geniet het die eerste 3 maande:
 
1. 'n Moby Wrap, dit is 'n lang stuk materiaal wat jy om jou bind en dan sit jy jou babatjie daarin en 'dra' hulle dan so rond. Tot Manlief geniet die Moby en sê dit is 'n MOET! So het jy/manlief jul hande vry en kan ander goetertjies doen of sommer net gaan stap.
 
2. 'n Bedjie langs jul bed - Wolf het sommer vir ons een gebou wat dieselfde hoogte is as ons bed en dit het langs my gestaan. (staan steeds daar) Dan hoef ek nie eers op te staan met die vroeer oggend voedings nie. Dit is baie handig en hoef nie 'n arm en 'n been te kos nie.
 
3. Die laaste groot item: 'n Beweging Monitor - dit is duur, maar omdat Lené op haar magie slaap en dit gevaarlik is gee dit ons net rustigheid en help my om beter te slapies.
 
4. Spoegdoeke
 
5. Sudacrem - Boud salfies. Ek weet nie of mens dit in Namibie of SA kry nie, maar dit is goud in 'n potjie. Lené het 'n sensitiewe velletjie net soos haar Mamma en Pappa en daardie salfies werk uitstekend.
 
6. Praktiese klere (onsies - alles in een) Ek dink so 6 pakkies en 6 vessies is genoeg (dalk 2/3 meer vir 'n pasgebore babatjie) Maak seker dit is gemaklike kleertjies.
 
7. "Disposable Changing Mats" - dit is 'n waterdigte matjie wat jy op die doek-omruil matrassie sit en dit verhoud dat die oortreksel elkekeer gewas moet word.
 
8. Laaste het ons die afgelope week eers begin gebruik - bibs - die spoeg stroom by haar mond uit en maak alles nat, so dit red ons bietjie op die stadium, ek weet nie hoe lank ons hulle gaan nodig he nie.
 
Ons het al die normale goed wat mens nodig het ook gebruik, soos 'n bad, doeke, wipes... Die bogenoemde is net die produkte wat almal nie aan sal dink nie. (veral nuwe mammas)
 
Goed wat ons nie regtig nou nodig het nie:
 
1. Baba sokkies (Ons het klere met toe voetjies) Ek is seker hulle sal later handig wees.
 
2. Spesiale baba-naelknippertjie ('n gewone grootmens een werk net so goed)
 
3. Sagte handdoeke sal werk en is soms sagter as baba-hoeddoeke.
 
Dit is dit vir eers.
 
Oulike goetertjies wat die week gebeur het:
 
Lené raak so vreeslik gou groot! 0-3maand kleertjies pas net-net!
 
Sy het haar handjies ontdek en swaai hulle omtrent rond. Sy het ook besef sy kan goed vashou/raak vat.
 
Sy maak haar ogies toe wanneer ek haar soen en raak omtrent opgewonde wanneer ek soen geluide begin maak.
 
Sy blaar borrels met haar spoeg - My borrel bekkie baba.
 
Hier is so paar fototjies:
 
















Sy is wakker, so ons 2 gaan nou eers bietjie gesels!
:)
 
 
 


Monday, 22 September 2014

2de 'swing'

Dagsê!
 
Ons gesiggietjie slaap, ek het vinnig deur die stort gevlieg, wasgoed aangesit, kombuis skoon gemaak, bietjie papier-werk gedoen en vir my middagete gemaak.
 
Ek eet nou gou middagete
Wolf kom venaand huistoe
Ons het Donderdag huis inspeksie
Verder gaan ons net SAAM wees!
 
Wolf was nou vir 7 dae weg - hierdie keer was soveel beter!
Ons was nie dr toe nie
ek het baie beter geeet
Ons het Lené se slaap patroontjies bietjie uitgesort
Ons altwee is dol gelukkig!
(Veral omdat Wolf oppad huistoe is)
 
Oulike goetertjies vir wat die week gebeur het:
 
Lené glimlag vir my soentjies
Sy gesels as sy op my skouer lê
Haar gesiggie is lewendig - sy het die oulikste gesigs-uitdrukkings.
 
Hierdie week Saterdag was dit bietjie warmer as die winter-weer (32'C) so ons het 'n kansie gekry om bietjie kort-mou kleertjies te dra:
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Sy raak AL mooier en ons geniet hierdie persoonlikheidjie wat besig is om te ontwikkel!
:)
 

Thursday, 11 September 2014

Lené 2 Maande en 'n Dag oud

Sjoe!
 
Lené het gister 2 maande oud geword.
Manlief het Dinsdag terug gekom van sy eerste 'swing' nadat my ouers huistoe is, dit beteken dat ek en Lené vir die eerste keer vir 7 dae aleen by die huis was.
 
Die 7 dae aleen was nie maklik nie, ons was Dr toe (Ons altwee is nou gesond) Ons het op ons eerste uitstappie gegaan.
Ek het ook vasgevang gevoel - asof ek nooit weer 'n lewe sal hê nie.
 
Lené wil net op haar magie slaap, wanneer ek haar op haar rug neersit is sy binne 10-15min wakker en baie huilerig - Op haar magie slaap sy vir ure, maar dit is ook hoe baie babatjies versmoor so ek kon haar nie net neersit en my eie ding doen nie - sy het elke aand en deur die dag op my geslaap
(so ek was bietjie vasgevang)
 
Wolf het toe by die huis gekom en besef hierdie storie sal moet ent kry - hy het toe winkel toe gegaan en 'n beweging monitor gekoop en ook 'n swaai vir wanneer sy wakker is.
 
Ons het gisteraand net 1 keer wakker geword en ek het terwyl sy 'n oggend slapie vat 'n Unisa taak klaar gemaak en ek tik nou terwyl sy haar middag slapie vat blog - ek het uiteindelik my eie tyd en voel fantasties.
 
Ek weet soms het mens 'n slegte dag - vandag is nie een van daardie nie!
 
Partykeer gaan dit nie so goed nie, ek wil nie hier voorgee dat dit altyd 'maanskyn en rose' is nie, so ek gaan vertel wanneer dit sleg gaan en ook wanneer dit beter gaan.
 
Ek het vanmiddag 'n paar fototjies van haar geneem, hier is hulle:
 
 
 
 
 
 
 
Sy gesels heerlik met ons:
 
 
 
Sy word op gesoen:
 
 
 
Sy is spek-vet en gesond!
 
Julle moet 'n heerlike daggie geniet.
Ek gaan nou 'n warm teetjie drink en piesangbrood eet wat my Moemsie vir my gebak en gevries het, is sy nie dierbaar nie? (Hartjie Mamma)
Wolf kom oor 'n rukkie huistoe
dan is dit ons
3.
 
:)